Dis altyd spitstyd!

Ek het vantevore al met julle gedeel dat New York ‘n 24/7/365 stad is wat nooit slaap nie. Vir ‘n Suid-Afrikaner wat van die platteland af kom, sal dit een groot nagmerrie wees om in Amerika te ry. Die stede se verkeer raak nooit stil nie. Die snelweë buite die stad is egter meer rustig.

In Houston, Texas het ek egter ‘n volmaakte oplossing gesien vir ons eie Kaapstad se nagmerrie, met hopeloos te min deurpaaie en ringpaaie rondom die stad. Moenie ‘n fout maak nie, Houston se verkeer is vir my as Kapenaar, wat gewoond is om Johannesburg en Pretoria se hoofpaaie in spitstyd aan te durf, steeds ‘n doolhof van uiterstes.

Onlangs was daar groot polemiek oor Sanral se voorneme om die N1 in die Noordelike Voorstede in ‘n tolpad te verander. Ek was nog nooit ‘n voorstaander van hierdie voorstel nie, totdat ek dié droom van ‘n tolpad in Houston gesien het.

Sekerlik almal van ons weet dat die Kapenaars vir een of ander rede dink hulle is in Europa of die VSA, deurdat hul die regterbaan oorgeneem het en dit geensins meer die vinnige baan genoem kan word nie. Deesdae is dit niks snaaks om motoriste te sien wat dit waag om in die linkerbaan verby te steek nie. Hiervoor moet ook dringend ‘n oplossing gevind word en dit is waar die ‘Houston’ model fantasties sal werk. In ag geneem dat daar huidiglik tussen die Plattekloof- en Old Oak wisselaar gewerk word, sal dit die ideale tyd wees om so ‘n tolpad in te stel om ons verkeer soveel makliker te laat vloei.

Aangesien die Yanks aan die regterkant van die pad ry, is die heel linkerbaan die vinnige baan. Hierdie baan word geskei van die ander bane, deur betonblokke, soortgelyk aan die wat met die padwerke op die N1 gebruik word. Hierdie baan is egter onderworpe aan tolgeld.  Die vinnige motoris wat nie kans sien vir die stadige slakkepas verkeer nie en nie omgee om vir sy plesier van vinnig ry, te betaal nie, gly met gemak in hierdie baan in. Voor elke afrit is daar vir hom geleentheid om weer terug te gly in die verkeer in om hom in staat te stel om die afrit te kan bereik. Dit is opmerklik hoeveel vinniger die verkeer as gevolg hiervan vloei.

In Los Angeles betaal jy ook ekstra indien daar minder as twee passasiers in die voertuig is.

Ek sal glad nie omgee om vir hierdie voorreg te betaal nie. Hoe lyk dit Sanral – wanneer kan ek die C250 AMG  in die vinnige baan in stoot?