Die oomblik toe ons Houston verlaat was my tyd van rustig wees verby. Die vlug na Ontario, CA toe duur so ongeveer 3,5 ure, ingesluit die oorstap op Phoenix, Arizona en ja, jy stap!! Ek moet eerlik wees, American Airlines gee baie goeie diens. Wanneer jy uitstap by aankoms, is daar ‘n grondwaardin beskikbaar by die toonbank om jou te help om weer die volgende lokaal se nommer aan jou te verskaf waar jy moet oorstap vir jou volgende vlug. Alles is baie georganiseerd.
Ek was natuurlik baie opgewonde oor hierdie deel van ons vakansie, want ek sou na 9 jaar weer my voet neersit in CA en my twee expat Suid-Afrikaanse vriendinne, Eleanor Becker en Christelle von Wielligh sien. Interessant genoeg, het ek nege jaar gelede toe ek hier gekuier het, vir hulle twee aan mekaar voorgestel en vandag is hulle groot vriende. Christelle se dogter en haar man werk ook by die kerk, waar Eleanor hulle vroeer as pastoorspaar gedien het.
Toe ek afkom by die roltrap, rol die Afrikaans oor ons tonge en word ons van oral af aangestaar oor die babelse verwarring wat ons hier in die vreemde veroorsaak. Boonop alles, raak die sekuriteit heel op hol toe ons by die swaaideure uitstap …. die rede? ‘n Reuse bus-grootte Winnie Bago RV wieg die parkeerplek in om ons op te laai. Sekuriteit probeer ons verwilder, maar ons steur ons min daaraan en klim ewe grasieus binne in die bus in, terwyl ons gasheer, dr Hendrick Becker, ons bagasie onder in Winnie se maag weg bêre. “Oh my gosh” hoor ek van buite af – “maybe they’re celebrities?” Nou ja, so na aan ‘n sepiester was ek nog nooit in my lewe nie. 😂😂😂
Winnie gly grasieus by LAX uit en ons sak weg in gemaklike leerstoele met ‘n glas koeldrank in die hand. Ek kry natuurlik die heerlike uitskopstoel wat die volgende vyf dae my geliefkose sitplek sou word.
Los Angeles se snelweē flits verby en kort voor lank is ons op die mooiste paaie wat ons al krullend en opdraende na Arizona en Utah se berg wêreld toe lei.
Soos jul op die foto kan sien, is Winnie Bago se reeksnaam Journey. Kyk, ek is ‘n Elvis Blue aanhanger en in my agterkop lui ‘n klokkie. Journey …. Ek gryp my iPhone uit my sak en siedaar sing Elvis Blue hartlik die lied uit volle bors op Winnie se luidsprekers. Jan Hoogendyk, jy weet dit net nie, maar jy is al die pad op reis saam ons in Amerika
.
![]()
Wat ‘n fees. Ons is op pad Zion toe, ‘n afstand van 390 mi, saam met Hennie (dr Hendrick) en Eleanor Becker en hul seun Niel. Eleanor en ek het saam groot geword in Parow, in die Wes-Kaap en was ook van kindsdag af saam in dieselfde gemeente. Daar het sy en Hennie mekaar ontmoet, waarna hy by die AGS Teologiese Skool as pastoor afgestudeer het en toe na die VSA verhuis het en sy doktorsgraad in Teologie verwerf het. Sewe-en-twintig jaar later is ons nog steeds vriende. Alhoewel ons mekaar maar min sien, hou ons steeds kontak. Toe hulle hoor ons kom kuier, het hulle dadelik laat weet dat ons genoeg tyd moet inruim om saam met hulle die Zion National Park in Utah te besoek.
![]()
Zion het van die mees gevaarlikste staproetes in die VSA en jaarliks sterf talle mense ook hier. My man is egter ‘n kranige stapper, wat onder andere al Kilimanjaro geklim het en dus geensins bang was vir hierdie uitdaging nie.
Om Zion te bereik, moes ons ook deur Las Vegas ry, en natuurlik is dit ook woestyn wereld.
Die RV is baie luuks en het slaapplek vir vyf persone. Ons slaap in ‘n RV oord waar die RV’s kompetisie met mekaar hou, oor watter een die grootste en die beste is. Hier is selfs oorde wat nie RVs’ wat ouer as 10 jaar oud is in hul parke toe laat nie. Gmf, hoogmoedig ook nog 😂.
Eleanor het die yskas goed toegerus en ons het nooit nodig gehad om ‘n restaurant te besoek nie. Elke dag was daar ‘n variasie van die heerlikste disse en ek kan haar komplimenteer – sy is ‘n bobaas kok. Die kampmalles in Suid-Afrika kan haar gerus invoer om vir hulle te kom kook klasse aanbied.
Ek is eintlik bietjie bang om terug te gaan Suid-Afrika toe, want ek het ‘n spesmaas dat my man gaan aandring dat ek ook sjef Eleanor Becker se styl moet begin navolg. 😜Ons arriveer die volgende oggend ongeveer 10 vm. by die besoekersentrum en Pieter val sommer dadelik in die pad om sy eerste stap te doen, die ‘gevreesde’ Angle’s Landing. My man het die toets met vlieënde vaandels geslaag en met trots sy sertifikaat ontvang vir hierdie stap.
Omdat ek as gevolg van limfideem in my been nie baie ver kan stap nie, het ek en Eleanor ‘n gemaklike stap van 2,9 myl gedoen – dit is amper 5km. Nou ja, ek is gemotiveer om ten minste die 5km stap in volgende jaar se Spar wedloop vir vroue te doen. Nog iets om op my ’emmer-lys’ af te merk.
Hier is die eekhorinkies sommer baie mak, so te sê dat een sommer teen my opgespring het, tot in my nek. Ek was nogal bietjie verskrik vir die parmantige kalant en baie vinnig van hom af pad gegee.
My man vertel dat hulle die volgende dag, op dieselfde roete, ‘n slang teëgekom het. Ta het vir hulle vanaf ‘n klip sit en bekyk, kop tussen die blare deur, sonder om te roer. Ek’s maar bly ek was nie naby nie.
Ongelukkig vir my, takel ‘n virus my daardie aand en vir drie dae was ek lam gelê as gevolg van griep. Ek het dus heeltyd binne in die RV gebly en meestal geslaap.
Utah is natuurlik die hoofkwartier van die Mormone. Om hierdie rede het Zion meestal religieuse name. Soos Winnie deur die klein dorpies ry, sien ek net Mormoonse kerke. Hul invloed is duidelik orals te sien.
Ten spyte van ongesteldheid, sal ek hierdie been van ons vakansie net nie kan vergeet nie. My man is definitief van plan om baie gou weer terug te kom California toe en weer vir Zion te besoek. Die lewe van die ‘permanents’
(RV eienaars wat permanent op die pad is) is definitief nie eentonig nie. Amerika is groot. Hennie en Eleanor het so pas vir ‘n hele jaar met Winnie deur die VSA getoer en het nog nie eens in New York, waar ons Amerikaanse tuiste is, ‘n draai kom maak nie. Vra die Amerikaners hulle of hul ‘permanents’ is, is Hennie se antwoord : ‘No, we are wannabees!” Dalk volgende keer, wanneer ons weer kom, maak ons almal ‘n draai by die Catskill Mountains, ‘n klipgooi van ons Summit huis af in NY.Ek het Sondag saam met die Beckers terug gekom Redlands, CA toe terwyl Pieter nog twee staproetes in Arizona sou gaan doen.
Volgende keer kuier ek saam met julle in ‘n condiminium in Redlands, CA saam met ander Suid-Afrikaanse expats – sjoe! ek dink nie ek gaan ooit herstel na hierdie vakansie nie😆.