Die lewe in die stad

Leri my kleindogter is ‘n kunstenaar. Sy doen modelwerk, sing en doen sommer drama in dieselfde tyd. Sy het onlangs vier medaljes huis toe gebring vir sang en drama en het gehoop sy kan hierdie jaar Los Angeles toe gaan om daar te gaan optree.  LA het ‘n magiese aantrekkingskrag en word vreeslik geromantiseer.

In die werklikheid is dit ‘n stad soos enige stad ter wêreld. ‘n Stad waar daar gelag word, waar daar hartseer is en net so ook armoede. San Bernadino, is ongeveer 80km van LA af, met Ontario lughawe as die naaste lughawe aan die stad.

Ek is die Sondag terug Redlands, San Bernadino toe om bietjie by my vriendin, Christelle te gaan kuier.

Een ding wat ek opgelet het is dat die Amerikaanse manier van bly, aansienlik verskil van die Suid-Afrikaners s’n.  Hier bly die mense in gerieflike groot huise op groot erwe.  Kies hul om in ‘n woonstel te bly, is die woonstelle ruim en groot en goed toegerus.

Christelle en Jaco woon in so ‘n kompleks.  Die woonstel is ruim en voel vir my glad nie na ‘n woonstel nie.  Die huise in Amerika het almal lugreeling en verwarming in.  Hier is instap klerekaste standaard, by ons is dit ‘n luukse.  Die deursnee Amerikaner maak self hul huise skoon, aangesien arbeid baie duur is – ongeveer R1500 per dag vir ‘n handlanger.  Daarom word die huise toegerus met toebehore wat die lewe makliker maak vir die inwoner.

In hierdie woonstel kompleks is ‘n wassery wat baie netjies gehou word deur die inwoners.  ‘n Groot swembad maak deel uit van die kompleks.  Christelle hulle het hul eie klein binnehof, waar ek myself lekker uitgestrek het terwyl ek met my iPad op my skoot sit en werk het.  Ek het gevoel ek is buite in die natuur ten spyte daarvan dat die binnehof klein was, was dit rustig en ontspannend.

Om elke hoek en draai sien ‘n mens nael-salonne waar jy jou naels kan laat doen.  Ek was so bevoorreg om deur my vriendin bederf te word en het sommer my naels net daar laat doen aangesien dit hopeloos uitgegroei was.

Marbi, die Von Wiellighs se dogter, het van die expats wat hul ken, uitgenooi vir ‘n braai by hul huis. Ek het haar Amerikaanse man, Adam, gekomplimenteer en gesê dat hy enige tyd sal kan kers vashou met ons boere-manier van braai

Toe kom die verassing wat ek nooit verwag het, binne in ‘n groot stad soos Los Angeles en spesifiek San Bernadino nie.

 

Die  Von Wiellighs en Marbi het spesiaal ‘n dag afgeneem by die werk sodat ons die wêreld kan verken.

Binne 10 min. nadat ons van Marbi se huis af vertrek het, het die wêreld rondom ons begin verander na ‘n landelike omgewing en kon ek hoor dat die motor meer krag nodig het vir die bergpas wat voorlê. Buite San Bernadino is die mooiste berg hutte waar sommige van die inwoners permanent woon en elke dag pendel om in die stad te stad gaan werk.

So arriveer ons in ‘n idilliese dorpie, wat in die winter ‘n groot aantrekkingskrag is vir skiērs. Big Bear is vol klein winkeltjies waar jy die mooiste skilderye, leerbaadjies, houtsneewerk, ens. kan koop, asook restaurante wat heerlike eg Amerikaanse geregte bedien.

In dié dorp sien ek baie hout bere en wonder die ware beref dit in die winter tot in die dorp waag. Die houtsnee beelde lyk so eg, ek skrik my boeglam toe ek amper in een vasloop.

Aan die onderkant van die dorp loop ‘n lieflike meer deur. Langs die waterkant staan hout hutte ingeryg, ‘n heerlike ontspanningsoord vir winter en somer.

Van daar ry ons oor die berg na die Spear Head meer en dorp.  Dit laat my baie aan Knysna dink met al die woude rondom die huise. Net soos Knysna is dit omring deur koppe met bome waar jy ook so skielik op die dorpie af kom tussen die klowe. Ek sal dae kan spandeer op een van die hout dekke langs die water – rus vir die siel, ‘n ideale retreat om ‘n boek te kom skryf maar bietjie baie ver van die huis 😪

Hierdie “road-trip” was n wonderlike ervaring. Ekt nooit verwag om soveel skoonheid, so naby n groot stad te aanskou nie.

Ons tydtjie raak kort – ons vlieg die Vrydag oggend van Ontario af terug Le Guardia lughawe in New York toe, via Salt Lake City.  Met ons koms Los Angeles toe, het ons gemiddeld 3 ½ ure aan elke vlug tussen die lughawens van NY, Houston en Ontario spandeer. Hierdie keer is dit ‘n lang vlug NY toe. Ons vertrek 6vm uit Ontario (3vm in NY) en land eers 17:00 in NY.

Dit is ‘n lang naweek, met “Veteran’s Day ” op hande. ons moet ‘n motor by Hertz afhaal en dit is reeds 19:00 toe ons die stad verlaat. Die verkeer was so druk dat ons langs die pad afgetrek het by n rusplek en onself plat getrek het in die motor. Ons het die volgende oggend 3u eers in Summit aangrkom, 24u na ons uit LA weg is. Nodeloos om te sê dat ek die volgende dag nie baie aktief was nie.  IMG_4338