Pieter het borduurwerk op ‘n hemp laat doen. Hangende af van hoe jy hom lees, lees dit soos volg:
I love KNYSNA❤️
Jy kan lees Knysna, of jy kan lees NY – twee van my man se gunsteling plekke in die wêreld.
Ons is twee dae voor ons sou terug vertrek Suid-Afrika toe, weg van Summit af. Hiervandaan het ons na die buitewyke van NY, ongeveer 60mi van die middestad af, geskuif sodat ons nader aan die lughawe kon wees.
Die metro loop hiervandaan reguit NY toe, die ideale vervoer middel, aangesien parkeerplek in NY ontsaglik duur is. Ons was by Day’s Inn in Newburgh tuis. Die volgende oggend vroeg neem ek vir Pieter na die naaste groot metro stasie toe, ongeveer 15km van waar ons bly. Baie van my vriendinne is heel verstom as hulle hoor dat ek in NY bestuur, maar ek het my voorgeneem dat alles wat ek in Suid-Afrika doen, kan ek hier ook doen!! Dus klim Nerina agter die linkerhand Chevrolet se stuur in en daar gaan ek.
Ek is eerlik as ek sê dat ek met die wegneem slag stasie toe, maar baie versigtig was, maar teen die tyd dat ek die middag weer vir Pieter moes gaan haal, was ek heel gewoond aan die linkerhand stuur, die tolhekke waar ek moes betaal en nog vele meer moets en moenies.
Dit is nie net om aan die linkerkant van die pad te bestuur nie. Amerika het baie streng padreëls en die Amerikaners is baie versigtig om enigsins die reëls te oortree. Jou bestuurslisensie is daar jou identiteitskaart, begaan jy ‘n misdaad word jy behoorlik gemerk en kan jou lisensie afgeneem word.
Spoedbeperkings is ietwat anders as hier – ek onthou toe ek nog ‘n kind was, voor ons oorgeskakel het na die desimale stelsel toe, was die spoed limiet op ons hoof paaie 72mpu. In die VSA is dit 65mpu, dus is my voet bietjie swaar op die petrol en praat my man my kort kort aan. Jy sien, ek is meer geneig om 140kmpu hier by ons te ry😜 – dit 85mpu!!
Die spoed wissel ook redelik baie – in sekere stedelike gebiede kom dit af tot 55mpu, self 45mpu; én wanneer jy ‘n skool nader is daar ‘n waarskuwingsteken wat sê dat jy naby ‘n skool is. Onmiddellik kom die spoed af na 25mpu. Voor jy nie heeltemal verby die skool is nie, mag jy nie vinniger ry nie.
Wanneer jy agter ‘n skoolbus ry, moet jy onmiddellik stadiger ry. Sodra die skoolbus stop, moet jy ook stop en wag tot die bus weer vertrek. Geen taxis wat verby jaag teen ‘n spoed nie!1 Wet en orde geskied hier.
‘n Ander interessantheid is dat jy, wanneer jy deur ‘n parkeerarea ry, op die uitkyk moet wees vir voetgangers. Die voetgangers hoef nie vir die verkeer te wag om verby te ry nie, nee aankomende verkeer stop onmiddellik vir ‘n voetganger wat oor die pad na sy/haar motor toe stap. Die wonderlike hiervan is dat as dit reën, jy nie hoef te wag vir die verkeer om verby te kom en sodoende sopnat reën nie, die motorbestuurder sit heerlik droog in sy motor – jy as voetganger kry voorkeur. Terug by die huis was ek erg geirriteerd wanneer ‘n motor nie stop, sodra ek oor die parkeerterrein stap nie. Hulle moet mos weet!!
Motors wat by stopstrate wag om te ry, wag geduldig vir die motoriste wat van voor af kom. Daar is geen indrukkery nie. Motoriste is ontsettend beleef.
Ek kan regtig die minister van Vervoer aanbeveel om bietjie te gaan kers opsteek in Amerika oor hoe dit daar gedoen word en dit hier kom implimenteer. Die ongeluk syfer in Suid-Afrika sal drasties daal as hul die Amerikaners se voorbeeld volg.
Nou ja, ek was nogal bietjie hartseer die oggend toe ek SAA se Airbus op JFK tegemoet stap. “America, it’s not my last visit. I’m definitely coming back as soon as possible.