Ek is hierdie week in GP vir n gebed seminaar in Alberton. Volgens Google Maps is dit ongeveer 1 ¼ uur vanaf Equestria, in die Ooste van Pretoria, waar Dalene, my vriendin bly. As gevolg van die feit dat verblyf in die Suide van Johannesburg baie duur is, het ons besluit om liewer elke dag die pad aan te durf soontoe.
Ek is ‘n gesoute bestuurder in spitsverkeer en gewoond daaraan om met die GPS te bestuur, selfs in NY. Nou is ek egter navigator vir Dalene, met die selfoon en Google maps as geselskap.
Ek het nooit geweet dit is so moeilik om ‘n navigator te wees nie. Dalene het vir ongeveer 6 jaar nooit regtig snelwee gery nie en bestuur dus nie naastenby so vinnig soos haar Kaapse vriendin nie. Dit is egter nie hier waar die probleem le nie!
Die tante op die GPS vertel vir my hoe ons moet ry en Dalene luister so half met die een oor saam, terwyl sy bestuur. Die gesprek loop soos volg: “In 400m, draai links.” Teen daardie tyd is Dalene al by die afdraai. Skielik hoor sy hier van die kant af: “Hou reguit aan”. Die volgende oomblik voel ek hoe ruk sy die Brio na regs. “Waar gaan jy heen” vra ek. Sy antwoord: die tante se dan ek moet reguit aan hou’. Ek skree: “Nee, draai links, daarna moet jy reguit aan hou. Die Brio vlieg bo-oor die sperstreep en die eiland in die afdraai baan in.
By die volgende padwisselaar se die GPS dat ons in 400m na links moet hou en dan weer reguit aan ry. Dalene draai links. Sy moes eintlik net reguit aangehou het. Ek beduie vir haar dat sy ‘daar’ moes gery het en Dalene vra: ‘waar’? So kom ons na 1 ¾ uur daar aan!!
‘n GPS is nie altyd die regte aanwyser om jou sonder moeite by ‘n bestemming te kry nie.
My vraag, na aanleiding hiervan is: “hoeveel mense luister deesdae na ander mense vir leiding, net om so die verkeerde afdraai te vat?”
Maak seker dat jy God die Vader, Seun en Heilige Gees as rigtingwysers in jou lewe het en volg Sy Woord streng na.