Africa, oh Africa!

Wanneer jy in Entebbe land, is jy heel beindruk met die lughawe en kry die indruk dat hul bietjie in die VSA kers opgesteek het.  Die enigste ‘luggang’ na en van die lughawe gebou word beset deur ‘n vliegtuig van Qatar Air – onse SAA staan definitief nie in die tou om daar te parkeer nie.

Die doene saal is bietjie chaoties want ‘n hele vlug se passasiers moet in ‘n spasie, nie veel groter as jou sitkamer, ‘n gaatjie soek waar jy jou aankoms vorm moet invul.  Myns insiens moes dit al op die vliegtuig uitgedeel gewees het om die verdrukking te vermy.

Jy beweeg egter heel vinnig deur na waar jou bagasie vir jou wag.  Gedienstige werknemers help jou om jou bagasie op ‘n trollie te laai. Ek beweeg uit na die aankomssaal en gewaar nêrens my vriendin nie.  Daar is omtrent nie ‘n mens in die ontvangsarea nie.  Eers na omtrent 20 minute moes ek uitvind dat ek moet uit beweeg na buite waar ‘n groot groep mense onder gazebo’s sit en wag vir passasiers wat arriveer.  Niemand word binne in die gebou toegelaat nie.

Ons hotel is ‘n heel aangename verassing, in ag geneem wat ek al in Afrika gesien het, maar nogtans hopeloos te duur vir, na my mening, ‘n twee-ster hotel.  Met ‘n klein bietjie moeite sal hul maklik die hotel kan opskuif na drie sterre toe.  Na aanleiding van ons ondervinding later in die week besef ek dat die geesdrif daarvoor definitief ontbreek.

Die eerste vier dae bring ons meestal in die hotel deur, aangesien daar ‘n sending konferensie gehuisves word wat deur my vriende bygewoon word.  Ek gebruik dit as tyd om voor te berei vir die konferensie wat voor lê.  Een middag besluit ek om buite onder die lapa te gaan sit – ek is nou maal een maal lief daaroor om die natuur te geniet terwyl ek skryf en voorberei.  Ek gewaar skielik ‘n pandemodium wat losbars.  Die lapa se stoele word letterlik onder my en RIna uitgeruk en almal op ‘n vragmotor gelaai.  Ek dog eers dis dalk gehuurde stoele, wat daar geplaas was vir ‘n funksie aangesien daar ‘n markiestent buite staan waar die kos saans bediens word.  Toe begin hulle die hotel se eetkamer stoele uitdra.  Langs my begin iemand met ‘n saag die televisie se hegstuk afsaag en dra dit ook weg. Ek besef dat hier ‘n klomp  gewapende soldate of polisiemanne rond staan.  Dit is toe wat ek mos hond se gedagte te kry en vir Rina sê: “hoe lyk dit vir my dié goed word opgelaai vir skuld”. My woorde is nog skaars koud toe een van die manne in uniform ons nader.  “Are you scared?” ‘No, but what’s going on”, vra ek.  Ons hoor toe dat die hotel nie hul waterrekening betaal het nie en dat die meubels nou opgeskryf is vir skuld.

Heel verontwaardig stap ons na binne toe, want ons stoele is onder ons uitgeruk.  Die vrieskas kom letterlik om die draai gedraf, net ‘n klompie bruin bene steek onder dit uit, soos die manne onder dit kreun soos hul dra.  Die kombuis personeel kwetter soos spreeus en beduie in hul taal – ‘n Babelse verwarring.  Die ontvangspersoneel staan met kil gesigte en weet nie of hul moet groet of koes nie!!  ‘n Uur later toe ons die eetkamer binnestap, kon geen haan kraai dat die stoele verdwyn het nie.  Die konferensiesaal laer af in die gang se stoele het duidelik baie minder geword en weet wat:  die eetkamer lyk sommer baie mooier met die nuwe blou stoele.  Die volgende dag bler ‘n ietwat kleiner televisie al weer teen die eetkamer se muur en almal swyg soos die graf.

Vrydagoggend beweeg ons aan Kampala toe en hier begin my gesweet.  Ek dog eers dit is van die Matoka, wat ek in my onkunde so lekker aan gesmul het, min wetende dit is piesangs wat gebraai word in olie en plat gedruk word soos poetoepap.  Ek het diabetes en dit was taboe vir my, maar uit onkunde het ek te heerlik gesmul aan die lekker kos en neem toe aan dit is my suikervlak wat so hoog is, daarom dat ek so begin sweet.  Nee, dit is Kampala se verkeer!!

Kyk, ek het al op Reismal gespog daarmee dat ek nie bang is om self in New York te bestuur nie, maar Kampala sal my definitief nooit agter ‘n motor se stuur sien nie.  Motorfietse en minibus vervoer is koning in Kampala, motors is in die minderheid.

My gasheer, pastoor Innocent dring daarop aan dat ek voor sit, omdat dit meer gerieflik is met my ongemaklike been.  Hoe meer ek teeskop, hoe meer dring die ander passasiers aan.  Agterna het ek besef waarom hulle nooit altyd so koel en uitgerus daar uitgesien het.  Hulle het nie nodig gehad om voor in die gevegslinie as adjudant vir die motor bestuurder te wees nie.  Kom jy aan na ‘n verkeerssirkel, hou jy maar net aan ry, die motorfietse wat van die linker of regterkant af aankom, hou hul pas en gly hier aan jou linkerkant verby asof dit niks snaaks is nie.

Boonop word enige iets denkbaar op ‘n motorfiets vervoer en dit is niks snaaks om drie passasiers op ‘n motorfiets te sien nie.  Somtyds is daar nog ‘n mamma met ‘n baba ook by, wat die getal tot vier opstoot.  ‘n Soldaat, op pad huis toe na werk, sit gemaklik in die middel en hou sy geweer vas, terwyl nog ‘n passasier agter hom sit.  ‘n Man wat besig is om huis te bou, kry sommer gou ‘n taxi om hom huis toe te neem met bad en al.  Sommige port-to-port’s – hul naam vir die motorfiets taxis, het selfs ‘n sambreel op vir beskerming met ‘n verlengstuk aan, amper soos ‘n karavaan se  “add-a-room”.  Geen wonder ek het so gesweet nie.  Ek het sommer 1,5kg geweeg toe ek tuis kom!

Kampala bestaan uit heuwels en ek was uiters verrras om teen een van hierdie heuwels die mooiste huise te sien.  Dié spesifieke woonbuurt is bedoel vir uitlanders wat in Kampala werk en Kampala International School bedien die kinders van regoor die wêreld wat daar skool gaan.  In hierdie voorstad is ‘n groot winkelsentrum wat al ons moderne Suid-Afrikaanse winkels huisves, o.a. Woolworths, Game, Shoprite/Checkers en ander bekende name.  Duidelik die uithangplek van die rykes van Kampala.

Ons was uitgenooi na die huis van ‘n rekenmeester egpaar, afkomstig uit Zimbabwe.  Die maatskappy vir wie sy werk, het hulle verplaas Uganda toe en sy is die finansiële bestuurder van ‘n gevestigde NGO in Kamala.  Hy is ‘n lektor by ‘n privaat kollege.  Hier word dinge anders gedoen as in die gewone huishoudings in Kampala.  By ons aankoms het ‘n ‘butler’ (dienskneg is net nie vir my die regte woord nie) ons ingewag met sambrele, aangesien dit gereen het en ons vergesel na die huis in ‘n sekuriteitskompleks. Die dame het ‘n spysenier ingekry om ons te bedien met Westerse en Ugandese geregte.

Die Ugandese is baie vriendelike mense en het geweldig respek vir ons.  Ek het daar mediese dokters, prokureurs, advokate en rekenmeesters ontmoet, wat myns insiens beter gekwalifiseerd is ek, maar hulle is só beleefd en diensbaar teenoor ons en het ons behoorlik op die hande gedra.

My laaste dag in Kampala was vir my die hartseerste dag. Ons het ‘n kinderhuis gaan besoek.  Die hoof van die kinderhuis is ‘n lidmaat van pastoor Innocent se kerk.

Toe ons in die woonbuurt arriveer waar die tehuis is, het ek reeds waargeneem dat dit in ‘n baie swak deel van die stad geleë is.  Hier is geen teer strate nie, hoewel Kampala in die algemeen heel skoon is, was dit hier ‘n ander prentjie.  In die leivore lê water wat ‘n lagie ‘vuil’ oor het.

‘n Modderige paadjie lei jou tussen verskeie huisies deur, almal teen aanmekaar gebou, met geen oop ruimtes nie. Kyk jy in by die deure, sien jy meestal net matrasse en klere wat rondlê.

By die kinderhuis aangekom, kry ek die gevoel van skeepshouers wat teenaan mekaar neer gesit is.  Die vensters het geen glas in nie en lyk soos tronkvensters.  ‘n Vierkantige opening, met ystertralies voor, met hortjies aan die buitekant, wat seker saans toegemaak word.  Uit die donkerte van die vertrekke loer kinders deur die venster openinge vir ons.  Iemand roep hulle om uit te kom en almal stroom na buite.  Tusssen die geboue is ‘n ‘dak’ van stokke, waardeur die water loop wanneer dit reen.  Dit is hul bymekaar kom plek.  Hulle groet almal vriendelik en sing vir ons ‘n liedjie.  Alhoewel hulle vir ons vertel dat hulle baie lief is vir Jesus, sal ek hulle sekerlik nie kan verkwalik as hul eendag hul wegdraai van die Here af nie en ek kan net bid vir groot genade.

Lopende water, elektrisiteit en ablusiegeriewe is luukses.  Ek kan sien dat daar krag aansluitings is, maar die drade is afgesny.  My hart bloei vir hierdie kinders.  Hul klere is oud,  verniel, stukkend.

Ek kan sien dat die huismoeder baie moedeloos is.  Haar laste is baie swaar. Ons haal ons laaste Sjielings uit om te saai.

Toe die vliegtuig sy neus Suidwaarts draai, terug Suid-Afrika toe, is my laaste belofte aan myself om terug te kom en te kyk hoe ek ‘n verskil in hierdie kinders se lewens kan maak.

Ek moes hierdie blog al op die vliegtuig geskryf het, maar ek skryf eers my hoofstuk: “Op reis na ‘n nuwe lewe” vir Carpe Diem Uitgewers en sluit my hoofstuk af met:

‘Doen goed aan andere en beleef ‘n lewe van vervulling’.

Nerina