Die pad na Wupperthal is nie bedoel vir sissies nie

Die laaste paar weke gons die koerante en sosiale media oor die hartseer van die sendingdorpie, Wupperthal wat so te sê vernietig is deur ‘n brand. Steeds is dit ‘n raaisel wat presies die brand veroorsaak het. Sommige wil voorgee dat ‘n klompie jong manne zol gerook het en hul stompies die plek aan die brand gesteek het, ander reken dit is iemand wat bye uit ‘n heuningnes uitgerook het. Feit is, die huise is onherstelbaar beskadig en daar is reeds begin om dit met ‘n stootskraper gelyk te stoot.

Van oral af stroom hulp in en só word Wupperthal skielik groot nuus. Tydens die Knysna brande het my nie-winsgewinde organisasie, Women on the Move 4 Christ Ministries uitgereik na die gemeenskap, verál uit dankbaarheid dat ons eie huis op die plaas op Knysna gespaar was. Twee maal het ek die 500km Knysna toe aangedurf met ons bussie en sleepwa om goed te gaan aflewer. Geen wonder dus, dat my brein ommiddellik oorgeskakel het in reddingsaksie en ek dadelik ‘n beroep op my Facebook vriende gedoen het om bydraes te skenk vir Wupperthal nie.

Die reaksie is oorweldigend. My man leen sy Isuzu bakkie en ons laai hom dakhoogte. Ek besef baie gou dat die bakkie te klein is vir al die klere, kos en huisware wat ingesamel is. Vrydagoggend kom ‘n genade oor my pad, toe my broer voor die kantoor stop, met die Venter waentjie, wat hy vir die vakansie geleen het. Nie voor lank nie of die Venter is ook sjok en blok vol.

Wat my man my egter nie vertel het nie, is dat dié pad Wupperthal toe, oor berge en dale strek. Die pad vanaf Kaapstad tot op Clanwilliam gly soos ‘n droom verby. Ons (my vriendin Muriel Mapling en ek) stop vinnig op die dorp om ‘n eet dingetjie te kry en durf die pad verder aan. Ons ry deur die Pakhuispas vir ongeveeer 21 km, waarna ons afdraai na die Biedouw Vallei. Net na ek afgedraai het, kom ek vier bakkies met sleepwaens teë wat teen ‘n slakkepas van ongeveer 40km per uur op die grondpad aansuiker. Ek, voorbarig steek die voertuie verby. ‘n Paar kilometer verder, kom die bakkie om ‘n lang U-draai en skielik besef ek, hier kom ‘n ding. Die pad wat nóú hier voor my lê is nie vir sissies bedoel nie.

Agterna het ek vir Pieter gevra: “Hoekom het jy my nie gewaarsku teen die steil grondpad teen die berg af nie?” Sy woorde was: “Maar ek weet mos jy kán ry!!!” Nou ja, dank die Vader, ek het dit gemaak. Met die terugkom, was die bakkie en die sleepwa leeg en op ‘n draai het die bakkie begin gly. Ek kon maar net uitroep: “Here, help!”, wyk Satan!!

Wupperthal lê in ‘n vallei, weggesteek tussen bome. ‘n Rustige omgewing met kabbelende waterstrome, donkies, skape en bokke wat in kampies wei. Deur die dorpie loop ‘n rivier en ‘n waterpoel gee lafenis aan die dorp se kinders en besoekers. Die kwik draai by 34grade Celsius.

Behalwe vir die miernes van bedrywighede by die laerskool sou ek nooit kon sê dat hier onlangs ‘n tragedie afgespeel het nie. Ek word vinnig na die depot toe verwys, waar omtrent vyf voertuie met sleepwaens reeds tou om voorraad af te laai. Ons val in die ry in en stap na die gebou om onsself aan te meld.

Ten spyte van die afgematheid, van lang ure in die warm son se arbeid, wat op die vrywilligers se gesigte wys, is daar ‘n dankbaarheid wat in die lug hang. Die predikant van die Morawiese Kerk kom maak kennis en vertel ons van die uitdagings wat hulle in die gesig staar, ‘n vrywilliger bied vir ons ‘n glas koeldrank aan. ‘Nee’, sê ons “Gaan aan. Ons sal regkom.” Buite, onder die skadus van toekerjare se akkerbome, wag ons ons beurt af om gehelp te word.

Dit is in hierdie tyd wat Kevin Swanepoel, uit die bloute op my afstap. Hy val sommer weg. “My oupa was ‘n Duitser (Ockhuis). Een dag, toe ek nog ‘n tjokkertjie was, sê hy vir my: ‘maak altwee jou hande toe en bal dit soos vuiste.’ Hy bied my ‘n lekker aan, maar ek kan dit nie neem nie, want my hande is toe en hy sê: ‘ dit is soos ‘n mens wat toe hand is, omdat sy hande toe is vir gee, kan hy ook nie ontvang nie.’ Dankie vir wat julle vandag hier vir ons kom doen. Ek kan sien julle is gewers, daarom sal julle ook ontvang. Mag die Vader julle in oormaat seën vir vandag se saad wat julle gesaai het.”

Ek gaap hom in verwondering aan – ek moet die volgende oggend by ‘n gemeente in Elsiesrivier bedien. My boodskap gaan oor ‘saai en maai’. As jy nie kan saai nie, sal daar ook nie vir jou ‘n oes wees nie. Ek dank die Vader weer daar vir al die goeie gewers wat gesaai het, vir my man wat sy bakkie vol diesel gemaak het en vir my gegee het. (Toe ons terugkom by die huis was die tenk leeg.) Terwyl Kevin met Muriel gesels, ontdek hulle dat hulle kleinniggie en -neef is. Ockhuis familie, met ‘n gedeelde oupagrootjie!!

Sy hoor dat daar van haar familie daar naby op Heuningvlei woon en ons pak die pad aan na waar haar oorlede pa gebore is. Heuningvlei is ‘n plaas gemeenskap, met omtrent 10 huise, geen winkel of kerk nie. Ons ontdek dat daar nog so iets soos plaashekke bestaan en Muriel maak maak ‘n blye lag 40 jaar na sy die laaste maal daar was, weer die plaashek na haar verlede oop. ‘n Spesiale oomblik vir haar, ook ‘n hartseer oomblik, toe sy dink aan haar ouers wat nie meer lewe nie.

Ons stop vlugtig op Travellers Rest, so 34km van Clanwilliam vir ‘n welverdiende toebroodjie en ‘n verbode sjokolade melkskommel. Ek verkyk my aan al die mooi handwerk uit die Cederberg omgewing wat te koop is. My beursie is ‘n paar blou note kwyt toe ons daar wegry maar ek is baie tevrede met my inkopies.

Die pad terug Kaap toe is lank, maar ons maak dit kort met al die kosbare kleinnode wat ons hier kom versamel het.

‘n Vinnige stop op Piketberg om my dors te les met ‘n botteltjie lemoensap en daarna vort huis toe. Tien ure, uit en tuis, maar ‘n rit wat ons nie maklik sal vergeet nie.

Nou moet my pienk wêreldkaart “She’s going places”tog gou kom. Ek het nog ‘n baken om te merk op my kaart!!