Toe ek indraai op die N2 ….

He gives us the words to speak when we are called to stand and voice our faith!” – Francine Rivers

Op 26 Desember 2013 was ons van Kaapstad oppad na ons vakansiehuis in Knysna. Ek skryf toe hierdie stukkie op my Facebookblad:

As ’n mens vir ure alleen in die motor sit en bestuur van Kaapstad na Knysna het jy baie tyd om te dink. Pieter, my man, ry voor met ons VW Kamper wat net 90km/h haal, dus ry ek maar al die pad geduldig agter hom. Van Knysna af gaan ons Pretoria toe dan bly die kamper agter op die plaas. Iewers in Swellendam se hoofstraat op ’n parkeerterrein parkeer ons en slaap net daar.

Kwart voor vyf val ons weer in die pad en ek stop op Heidelberg vir ’n koppie boeretroos. Net buite die dorp staan ’n vrou – sy het ’n sekuriteitsmaatskappy se uniform aan, R10 noot in die hand. Die Here sê ‘Stop en laai haar op!’ Dis kwart voor ses in die oggend. Waarheen is sy so vroeg-oggend op pad?

Haar naam Sy kom van Wesbank, daar naby Kuilsrivier. Haar man is vier jaar gelede oorlede. Sy het nie kans gesien om haar kinders alleen daar in die Kaap groot te maak nie en kom toe maar Heidelberg toe, na haar skoonfamilie toe.

Haar naam is Colette Pretorius. Sy is ’n enkel mamma van twee kinders. Sy werk as sekuriteitsbeampte by Riversdal Hospitaal. Elke oggend staan sy langs die groot pad en hoop vir ’n geleentheid. 

“Ek gaan Riversdal toe, Mevrou.” Sy klim in, bied dadelik die R10 noot aan. “Nee, ek wil dit nie hê nie, ek het dit nie nodig nie,” sê ek. Sy vertel my van ’n ander sekuriteitsmaatskappy wie se trokkie somtyds verby haar ry, dan laai hulle haar op. 

“Mevrou weet, hul ry met die werk se voertuig, maar hul vat my geld. Dan wens ek ek kan vir hul sê jul vat my kinders se kosgeld weg, maar dan gooi hul my seker uit die trok uit.” My antwoord aan haar is vergeef hul maar, hul weet nie wat hul doen nie. Sy kyk my so aan en sê: “Mevrou praat diep.” “Ja,” sê ek, “hul ken nie die Here nie, daarom weet hul nie van gee nie.”

Die gesels gaan draai tot by haar seuntjie van agt jaar oud. Hy was net vier jaar oud toe sy pa dood is. Hy het hierdie jaar so gehoop dat daar geld sal wees vir ’n Krismisboom, maar toe is daar net liggies. Elke keer as sy sussie die liggies aansit, sit hy dit weer af en sê: “Dis boomliggies dié, nie tafelliggies nie. Ek háát Krismis.” Sy ma neem hom eenkant en sê vir hom dat hy moet onthou hy is nie die enigste een wat verlang nie. 

Hierdie week het sy vyf mense sien ‘gaan’ by die hospitaal. Die een was ’n dogtertjie van vyf jaar oud. Haar mamma se enigste ooilam. Hulle was besig om reg te maak vir Kersfees. Die opgewondenheid was groot. Met die speel van ’n ballon het ’n stukkie daarvan in haar slukderm beland en het sy versmoor. Mamma en die buurman het van Albertinia af Riversdal toe gejaag, maar dit was te laat. Colette kon haar maar net vashou. Woorde sou nie help nie.

Colette sê dat sy die aand vir haar kind gesê het dat hulle nog so baie het om voor dankbaar te wees. “Mammie het vandag in die hospitaal nog so verby die een ou oom gestap en gesien hy slaap. Toe ek die suurstof apparaat wil afskakel, sien ek hy lyk so snaaks – hy was klaar dood.” 

“Maar weet Mevrou, die salaris is min, maar dis baie beter hier as in Wesbank waar hul so skiet. Die Here voorsien op wyse wat ek somtyds glad nie verwag. Ek het nie geweet waar die kossies vir Kersdag vandaan sal kom nie. Die Allpay kom eers die tweede en my geldjies was op. Oukersaand klop iemand aan die deur – die kerk lewer vir my ’n kospakkie af. Sy genade is so groot.”

Teen daardie tyd is ek al in Riversdal en vat die afdraai na die hospitaal toe. Stop voor die ontvangs, daar waar sy elke dag die mense help wat inkom. 

“Colette, jy is hier geplaas met ’n doel. Die Vader het jou hier nodig.”

Toe ek by die hek uit ry staan sy nog steeds vir my en kyk met ’n groot glimlag op haar gesig. Dit lyk of die lig vir haar deurgebreek het.

Ek vat die afrit by Mosselbaai na George en sien blou ligte flikker. ’n Toegegooide liggaam met donker voete wat uitsteek. Wat was jou storie? Dis te laat, jy sal dit nooit weer kan vertel nie. Het jy vir Jesus leer ken in jou wandel hier op aarde?


En dit is hoe my boek, Reis na oorwinning die lewenslig gesien het. Ek wou die boek góú klaar skryf, maar verskeie dinge het in my pad gekom wat veroorsaak het dat ek dit nie voor einde 2014 voltooi het nie.

Ek het, my boek gepubliseer is, letterlik vir Colette gaan soek op Heidelberg. Die oggend, toe ek by die afdraai na die woonbuurt afdraai het ek glad nie geweet waar om haar te gaan soek nie. Ek sien twee vroue aan gestap kom, hul kyk na my, duidelik geinteresseerd in die wit vrou met die Amarok. Ek ry nader en stop. “More” groet ek: “Ken julle dalk vir Colette Pretorius. Sy was voorheen by RIversdal Hospitaal werksaam.” Hul kyk vir mekaar.

‘Ja, Mevrou, sy werk nou by die hof, ek weet waar sy bly. Ek kan saamry en vir mevrou gaan wys.’, sê sy. Vyf minute later stop ons voor ‘n sinkhuis. My rygenoot klop aan die deur en roep: ‘Colette, hier is iemand wat jou wil sien.’

Die deur gaan oop en sy kom uit – sy erken my dadelik en verheug gee sy my ‘n drukkie. Ek vertel haar van die boek wat ek geskryf het en oorhandig ‘n kopie aan haar.

Toe ek uitry uit die erf uit, waai sy agter my aan. Een maal in my lewe kon ek ‘n verskil in iemand se lewe maak.

Vriende, gryp die dag aan. Moenie die kans laat verbygaan om goed aan ‘n ander te doen, terwyl jy nog die geleentheid het nie.